Die Suid-Afrikaanse wyndrinker het dit nog selde ooit só goed gehad as nou. ‘n Volslae prysoorlog is in die markplek aan die gang, ‘n oorlog wat die slag van Verdun na ‘n blommeskou laat lyk.

Benewens die aanbod van spotgoedkoop Suid-Afrikaanse wyne, wat tot so laag as R15,99 in supermarkten verkoop word, staan kopers onder die verleiding van Spaanse en Amerikaanse wyne wat prysetikette van onder die R25 rondswaai. Selfs Franse sjampanje – die ware Jakob – kan in die winkels van een drankgroep vir R150 per bottel aangetref word.

Manna uit die hemel vir die verbruiker, maar nie goeie nuus vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf nie. Suid- Afrikaanse wyne wat teen mekaar baklei om te sien wie se bottel teen die laagste prys op die rak gaan staan, veg ‘n futiele oorlog. Die verbruiker mag wen en die wynkelders kan ‘n fraksie van hul insetkostes dek en hul kelders leeg kry. Maar om wyne teen ‘n verlies te verkoop is nie vir die betrokke wynkelder volhoubaar nie, en vir die bedryf nóg minder.

Voeg hierby die kommerwekkende feit dat die uitvoer van gebotteleerde Suid-Afrikaanse wyn in die jaar tot einde Oktober R45 miljoen laer is as in die vorige periode, en die prentjie raak donkerder. (Ja, uitvoeren van wyn by die grootmaat het gestyg, maar geen land kan ‘n beeld vir sy wynbedryf bou deur goedkoop stortmaatwyn uit te voer nie.)

Die hartseerste saak van als is dat die viole gestryk word terwyl die bedryf brand. Daar blyk min leierskap in die bedryf te wees, instellings en mense wat na vore kom om eerstens die probleem te erken en tweedens daadwerklike oplossings te bied, is dun gesaai.

Produsente met wie Papsak op n daaglikse basis praat, is raadop. “Ons is op ons eie,” is die algemene gevoel. “Wie en watter organisasie is daar om in die bres te tree vir die wynprodusente?”

Die organisasies wat daar is, soos Vinpro, Wynkelders SA en die SA Wyn- en Spiritualieëraad, meen een keer per jaar op hul jaarvergaderings dat hulle bewus is van probleme in die wynbedryf Maar van die aanspreek van daardie probleme kom dadels, of dalk rosyntjies?

Waarom, byvoorbeeld, kon nie een van die organisaties na hoeveel versoeke kyk na ‘n generiese veldtog om wynverbruik en die skep van ‘n wynkultuur in Suid-Afrika uit te bou nie? Plaaslike wynverbruik draai by sewe liter per persoon per jaar. Deur die deugde van verantwoordelike wynverbruik en die omarming van ‘n nasionale wynkultuur te promoveer kan die surplus – wat tot laer pryse vir wynboere lei – lag-lag weggevee word.

Op die uitvoerfront sit ‘n mens met ‘n meer breedsprakige organisasie – Wines of South Africa  (Wosa). Jong, hulle praat ‘n hond uit ‘n bos – oor bemagtiging in die SA wynbedryf, hoe belangrik dit is om ons blommeryk en pragtige voëllewe saam met die wyne te bemark. Bestee miljoene van die produsente se geld.
En faal …

Die jongste voorbeeld van hierdie organisatie se inkonsekwenthede is te danke aan ‘n uitspraak van Wosa se uitvoerende hoof, die kontroversiële me. Su Birch. Soos Wosa die bedryf vertel, is die Ooste en China ‘n ontlauikende reus en Wosa gaan vir almal wys hoe om die reus te verower.

Onlangs in die wyntydskrit Crush!  word ‘n onderhoud met Birch gepubliseer. Toe sy gevra word watter lande sy graag besoek, antwoord sy: “Enige land behalwe China.”

Op die internet het die uitspraak die lyne laat gons, en die Chinese – is Papsak  verseker – was nie beïndruk nie.

Die tragiesste van als is dat die wynbedryf toelaat dat die verkeerde mense toegelaat word om belangrijke posisies te beklee, en dat daar te veel posisies is wat niks beteken nie.

Die hele land behoort agter die trotse Suid-Afrikaanse wynbedryf te staan. Maar dit raak werklik al hoe moeiliker.

Advertisements