Suid-Afrikaanse wyne met die Fairtrade -seël vir sosiaal verantwoordelike vervaardiging se gewildheid neem in Europese, Amerikaanse en Asiatiese markte toe. Dit terwyl plaaslike verbruikers ook toenemend na Fairtrade -produkte oorskakel namate bewustheid van dié inisiatief groei.

Volgens mnr. Ferdinand Appel, hoofbestuurder by uniWines Vineyards  in die Breedekloof streek, wat ook die Palese -wynhandelsmerk onder die Fairtrade -seël produseer, toon Suid-Afrikaanse verbruikers en wynhandelaars ‘n groeiende belangstelling in Fairtrade wyne.

“Onlangse navorsing bewys dat meer as 80% van Suid-Afrikaners deur hul maatskaplike gewete gedryf word wanneer aankope gemaak word, en dat meer as 75% van dié kliënte bereid is om ‘n premium prys vir ‘n produk of diens te betaal wat in sy maatskaplike, omgewings- en algemene besigheidspraktyke aan etiese standaarde voldoen,” sê Appel.

“Dit bied ‘n ontsaglike geleentheid vir plaaslike Fairtrade -geakkrediteerde vervaardigers om hul markaandee te vergroot in ‘n mededingende plaaslike en internasionale bedryf.

“Die Fairtrade -inisiatief komplementeer verder die Suid-Afrikaanse bedryf se biodiversiteit- en wyninisiatief, wat van SuidAfrika die mees holistiese etiese wynbedryf in die wêreld maak.” Suid-Afrika is tans die wêreld se vernaamste produsent van Fairtrade -geakkrediteerde wyne. So verkry uniWines Vineyards , ‘n wynprodusent naby Rawsonville, die druiwe vir sy Fairtrade -wyne van vervaardigers wat aan die internasionale Fairtrade standaarde voldoen.

Hierdie standaarde bepaal dat werkers op dié plase in goedgekeurde lewensomstandighede woon, toegang tot maatskaplike dienste soos kleuterskole het en voldoen aan boerdery-praktyke wat aan swart ekonomiese bemagtigingsvereistes voldoen.

‘n Persentasie van uniWines  se Fairtrade  Palesawynreeks se verkope word ook teruggeploeg in die gemeenskap waar dit gebruik word vir projecten wat deur inwoners geïdentifiseer word.

“Die Fairtrade -handelsmerk se gewildheid is besig om eksponensieel te groei namate verskeie hoë-profiel internasionale handelsmerke, soos Cadbury, hul assosiasie met Fairtrade  bemark,” sê Appel. “Dit lei tot groter klem op Fairtrade -wynkelders. Die algemene bewustheid oor dié akkreditasie sowel as die Fairtrade -etos is besig om in die internasionale mark pos te vat namate die aanvraag na Fairtrade produkte styg.

“Dit plaas Fairtrade -wyne in ‘n voordelige posisie, nie net weens verbruikersaanvraag nie, maar ook as gevolg van handelaars wat hulself verbind om voorraad aan te vul met produkte wat etiese bedrywe ondersteun,” het Appel gesê.

Fairtrade se beginsels

Fairtrade is ‘n internasionale inisiatief wat daarop focus dat die vervaardiging van produkte in ontwikkelende lande op ‘n etiese wyse geskied. Dit sluit die betaal van winsgewende pryse in, die vestiging van direkte handelsbetrekkinge met vervaardigers, asook die verspreiding van kennis en inligting oor produksie-, mark- en gehaltebeheervereistes in.

Fairtrade  skep meer geleenthede vir diegene betrokke by boerderygemeenskappe wat ekonomies benadeel of gemarginaliseer is deur konvensionele handelspraktyke.

Kleinskaalse boere plaaswerkers baat by Fairtrade  op die volgende maniere:

• Beter handels-, werks- en lewensomstandighede word deur Fairtrade  -standaarde gewaarborg.

• Daar word ‘n Fairtrade -premie aan kleinskaalse boere (in die geval van ‘n kooperasie) en plaaswerkers (in die geval van ‘n kommersiële plaas) toegestaan, wat op sy beurt in opheffingsprojekte belê kan word.

• Dit, met die oog op ‘n beter toekoms, ondersteun volhoubare produksie en die bewaring van die omgewing.

Advertisements