Kaapstad. – Vulstasies as sakeondernemings het oor die afgelope paar dekades grondig verander.

“Jare gelede was motorwerktuigkundiges ons sakevennote. ‘n Vulstasie het brandstof en smeermiddels verkoop en motorherstelwerk gedoen,” sê mnr. Paul Kramer, strategiebestuurder van Engen se internasionale sake-afdeling.

Vandag is dit ‘n heel ander storie. Engen het nou te doen met entrepreneurs wat sterk handelsmerke soos Woolworths, Steers of Equatorial Coffee verteenwoordig.

Dié klemverskuiwing het in die laat 1980’s begin toe die Amerikaanse oliemaatskappy Mobil sy belegging aan Suid-Afrika onttrek het, het Kramer by Global Pacific & Partners se Afrika- ekonomiese forum gesê. Die Suid-Afrikaanse bedrywighede is toe deur die destydse mynreus Gencor uitgekoop en Engen gedoop. Gencor se vulstasie-onderneming, Trek, het ook met Engen saamgesmelt.

Kramer sê Gencor het ‘n entrepreneuriese ingesteldheid gehad en het dit aan Engen oorgelaat om ‘n sukses te maak van die voormalige Mobil-onderneming.

Een van die eerste vennootskappe wat nog met Mobil gesluit is, was met die kitskosrestaurantgroep Wimpy. Stelselmatig het vulstasie-ondernemings se klem van bloot brandstofverskaffmg na geriefsdienste verskuif Kramer sê die algemene reël vandag is dat ‘n derde van die besoekers aan ‘n vulstasie net brandstof koop, ‘n derde koop brandstof en doen iets anders soos om koffie, brood of sigarette te koop, en ‘n derde gebruik net die ander dienste en koop glad nie eens brandstof nie.

Mense se leefstyl het so verander dat dit nie meer vreemd is dat ‘n jong professionele vrou byvoorbeeld een keer per week om twee-uur die oggend haar inkopies by ‘n vulstasie geriefswinkel doen nie.

Kramer sê Engen moes baie leer uit dié proses. Waar ander oliemaatskappye hul eie geriefswinkels getoets het, het Engen besluit om in vennootskap met kleinhandelaars te werk. Maar die maatskappy moes steeds sy interne vaardighede opbou en het soms foute gemaak.

Nog ‘n waagstuk was toe Engen begin het met die konsep van 1-stop-vulstasies langs nasionale paaie en snelweë. Dit was ‘n waagstuk omdat potentiële klanten beperk is tot dié wat daardie spesifieke stuk pad gebruik.

Volgens Kramer bedra die kleinhandelbedrywighede sowat 55% van Engen se bedryfswins uit verkope en bemarking. Die maatskappy het 1550 vulstasies in sy netwerk. Die oorblywende 45% kom van kommersiële verkope – dit is byvoorbeeld verkope van brandstof en smeermiddels aan die mynbou-, landbou- en vervaardigingsektor en aan groot voertuigvlote.

Advertisements